Breaking News

Toyota wys sy haastige Corolla

Toyota Gazoo Racing het pas die jongste toevoeging tot sy GR (Gazoo Racing)-reeks in Long Beach, Kalifornië gewys; op die vooraand van die openingsronde van die Formula Drift-seisoen.

Die GR Corolla sal na verwagting in die tweede helfte van 2022 in Japan bekendgestel word en Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM) oorweeg hom ook vir die plaaslike mark.

Danksy die Corolla TE 25, wat in Toyota se eerste wêreldtydrenoorwinning in 1973 behaal het, gevolg deur die Corolla Levin se oowrinning in die 1000 Lakes-tydren twee jaar later, is die grondslag gelê vir Toyota Gazoo Racing se konsep om motorsport-geïnspireerde motors vir die geesdriftige motoris te ontwikkel. Die GR Corolla is in die lewe geroep weens die sterk begeerte van die Toyota-president Akio Toyoda om weer ‘n Corolla wat motoriste sal boei, op die mark te bring.

In reaksie daarop het die ontwikkeling van die GR Corolla die begeerte laat herleef om steeds motorsport-geïnspireerde motors, wat daarop gemik is om wedrenne te wen, in die kleinhandel beskikbaar te stel. Die GR Corolla word aangedryf deur ‘n versterkte weergawe van die enjin wat vir die GR Yaris gebruik word; ‘n turboaangejaagde driesilinderenjin met ‘n tussenverkoeler  van 1,6 liter wat 224 kW teen 6 500 opm en wringkrag van 370 Nm teen tussen 3 000 en 5 500 opm  ontwikkel. Die GR Four-vierwielaandrywingstelsel wat uit die GR Yaris kom, is vir die GR Corolla aangepas, en maak dat die GR Corolla selfs onder uiterste bestuurstoestande heeltemal veilig is.

Die GR Corolla beskik oor presies dieselfde bakwerk as die Corolla-luikrug, maar sy spoorwydte is 60 mm breër voor en 85 mm breër agter om verrigting deur draaie te verbeter. Daarby het die GR Corolla steeds plek vir vyf insittendes en hul bagasie, om dit ‘n praktiese alledaagse voertuig te maak. Die lugskorte van die GR Corolla, wat 20 mm breër voor en 30 mm breër agter is, gee die motor ‘n breër houdig en aan die agterkant is daar drie uitlaatpye, een in die middle en een in elk van die hoeke, om die klank van die enjin nog verder te verhoog. 

Aan die binnekant is ‘n kort rathefboom wat vir vinnige ratwisselings sorg, en ‘n gewone handrem word gebruik om groter voertuigbeheer toe te laat, selfs wanneer daar onder uiterste omstandighede bestuur word soos wanneer daar aan “drifting”-wedrenne deelgeneem word. Die TFT-skerm , wat uitsluitlik vir die GR-modelle ontwikkel word, is ‘n nuwe kenmerk wat deur renmotors geïnspireer word. Dit weerspieël die insig van professionele bestuurders en is beter sigbaar as die motor sportief bestuur word.

Die GR Four-aandrywingstelsel van die GR Yaris is verder ontwikkel, en soos in die GR Yaris word ‘n elektroniese veelplaatkoppelaar gebruik om veranderlike dryfkrag voor en agter te verskaf. Die verskil is egter dat die 4WD-modus, wat dryfkragverdeling beheer en die Drive-modus, wat versnellerreaksie, stuurbeheer en ander kontroles beheer, geskei om keuses volgens bestuurdersvoorkeur en bestuursomstandighede moontlik te maak. Die bakwerk is verder versterk; dit bied hantering wat rats op die bestuurder se insette reageer. Benewens die hoësterkte basiese raamwerk, wat moontlik gemaak word deurdat die GR Corolla by Toyota se Motomachi-aanleg vervaardig word, is versterkings tussen die agterwielnisse, by die tonnel onder die vloer en by die brandstoftenk , ook onder die vloer, gevoeg om bestendigheid te verbeter. Soos in die geval van die GR Yaris is die dak vervaardig van koolstofvestel-versterkte plastiek ; dit maak die bakwerk nie net stywer nie, maar ook ligter. Skyfremme met teenoorgestelde remknypers bied stewige remkrag en beheer, wat selfversekerde en genotvolle bestuur moontlik maak, selfs op renbane.

Soos wat ‘n mens kan verwag, is die Toyota Safety Sense-veiligheidstelsel standaardtoerusting vir die GR Corolla; dit sluit voorbotswaarskuwing, ‘n blindekolmonitor, agterste dwarsverkeermonitor en ander belangrike veiligheidskenmerke in en maak die kombinasie van veiligheid en sekuriteit in alledaagse omstandighede en die bestuursgenot van ‘n sportmotor moontlik.

TSAM het nog nie aangekondig of, en indien wel wanneer, die GR Corolla in Suid-Afrika bekendgestel word nie; sy prys sal ook eers later aangekondig word indien hy wel in Suid-Afrika op die mark kom.

%d bloggers like this: