Breaking News

Twee Alfa Romeo-modelreekse opgeknap

Die afgelope ses jaar was die Alfa Romeo Giulia en Stelvio die mees bekroonde modelle in dié Italiaanse vervaardiger se geskiedenis en saam het hulle meer as 170 toekennings gewen.

Nou het Stellantis, die moeder-maatskappy van Alfa Romeo, aangekodig dat die jongste weergawes van albei modelreekse in Suid-Afrika beskikbaar is. Die intreemodel van die nuwe Giulia-reeks is die Veolce, wat aangedryf word deur ‘n turbo-aangejaagde vier-silinder enjin van twee liter wat 206 kW teen 5 250 opm en wringkrag van 400 Nm teen 2 250 opm lewer en gekoppel word aan ‘n outomatiese ratkas met agt gange. Aan die binnekant spog die Giulia Veloce met kenmerke soos ‘n 8,8 duim raakskerm vir die inligting-en-vermaakstelsel wat navigasie, Apple Car Play en Android Auto insluit en die inligting van die gebruiker se selfoonskerm weerspieël, ‘n seweduim- volkleur TFT-instrumentepaneel, outomatiese dubbelsone-klimaatbeheer, sportsitplekke met leerbekleedsel, USB-kragpunte voor en agter , skermplate aan die binnekant van die deure, Die stuurwiel bevat ratspane waarmee ratte sonder ‘n koppelaar gewissel kan word. Die Giulia Veloce spog verder met veiligheidskenmerke soos ‘n bandddrukmonitor, parkeersensors agter, outonome remhulp saam met die bespeuring van voetgangers en aanpasbare spoedbeheer. Die Giulia Veloce kan binne 5,7 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel en ‘n topsnelheid van 240 km/h bereik.

Die voorlopige vlagskip van die Giulia-reeks is die QV, wat vir Quadrofoglio Verde, die Italiaans vir groen klawerblaar, staan. Hierdie model sal die topmodel van die weeks wees totdat die GTA aanstaande jaar in beperkte modelle  beskikbaar is. Die QV word aangedryf deur ‘n 2,9 liter V6-enjin met twee turboaanjaers. Hierdie enjin, wat ook aan ‘n outomatiese ratkas met agt gange gekoppel word, lewer 375 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 600 Nm teen 2 500 opm. Die Giulia QV kan binne 3,9 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel en ‘n topsnelheid van 307 km/h bereik.  Die QV bied ‘n keuse van drie verskillende bestuursmodusse asook ‘n aktiewe veerstelsel. Aan die binnekangt is daar leer- en- Alcantara-bekleedsel vir die sportsitplekke, ‘n verhitbare  leer-en-Alcantara-stuurwiel met koolvesel-insetsels en koolvesel-insetsels vir die paneelbord en deurpanele. Hoewel die QV ook, soos die Veloce, met 19 duim-allooiwiele toegerus word, is dié van die QV van liggewig-aluminium gemaak. Verder is lidgiode-dagryligte en bi-xenon-kopligte standaard toerusting. Die veiligheidskenmerke sluit ‘n trukamera, parkeersensors voor en agter en ‘n blindekolmonitor in. 

Die Giulia-reeks sal vroeg aanstaande jaar uitgebrei word met die toevoeging van die GTA, waarvan net 500 eenhede beskikbaar sal wees. Die verskil is dat die verkoopsproses op ‘n een-tot-een-grondslag sal geskied en ‘n handelsmerk-ambassadeur sal die proses van bestelling tot aflewering volg. Voornemende kopers sal ook ‘n Bell-valhelm en volle wedrenklerasie, wat uit ‘n oorpak, stewels en handskoene bestaan, ontvang. Twee modelle, naamlik die GTA en die meer wedren-georiënteerde GTAm, sal beskikbaar wees. Die GTAm beskik oor ‘n rolstaaf aan die binnekant, die agtersitplekke word verwyder en  die deure word met ‘n leerband eerder as deurhandvatsels oopgemaak. Daar sal ‘n enkele uitlaatpyp in die middel van die agterste lugverdeler wees en die 20 duim-allooiwiele sal met net een moer vasgebout word. Die GTA sal 100 kg ligter as die QV wees, want die enjinkap, bagasiebakdeksel, dak en lugverdeler word van koolvesel gemaak terwyl aluminium vir die deure, enjin en veerstelsel gebruik word. Die GTAm word ook met ‘n baie groot agterste drukvlerk toegerus. Hoewel die GTA nog nie bekendgestel is nie, kan voornemende kopers reeds hul bestellings plaas.

Die Stelvio was Alfa Romeo se eerste sportnuts-voertuig, en hy deel die Giulia se platform. Alfa Romeo se Q4-vierwiel-aandrywingstelsel is standaard toerusting en volgens die vervaardiger beskik die Stelvio oor ‘n volmaakte 50: 50-massaverspreiding. Daarby is die Stelvio ook, volgens die vervaardiger, die ligste sportnuts-voertuig in sy klas.  Die Stelvio het volpunte tydens sy Euro NCAP-toets behaal en verskeie veiligheidskenmerke, soos bandwaa-lwaarskuwing, ‘n blindekolmonitor, voorbotswaarskuwing, ‘n stelsel wat die bestuurder waarsku as sy of haar aandag nie op die pad is nie  en ‘n outonome noodremhulpstelsel wat voetgangers bespeur, is alles standaard toerusting. 

Soos met die Giulia is twee Stelvio-modelle beskikbaar. Die Super deel die Giulia Veloce se enjin en ratkas maar beskik oor vierwielaandrywing. Die Super kan binne 5,7 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel en ‘n topsnelheid van 230 km/h behaal. Daar is drie bestuursmodusse om van te kies en die bestuurder kan ratte sonder ‘n koppelaar wissel deur die ratspane agter die stuurwiel te gebruik. Die Stelvio word met 20 duim-allooiwiele en rooi remknypers toegerus , asook ligdiode-agterligte, bi-xenon-kopligte, buitespieëls met elektriese werking wat met die druk van ‘n knoppie ingevou kan word, en verdonkerde glas vir verhoogde privaatheid. Aan die binnekant is daar ‘n veelfunksiestuurwiel met ‘n aansitknoppie, dubbelsone-klimaatbeheer, ‘n sondak en ‘n elektrochromatiese truspieël. Die raakskerm bevat ‘n navigasiestelsel, Android Auto en Apple Car Llay en die skerm van die gebruiker se selfoon word hierop weerspieël. Daar is ook USB-kragpunte voor en agter. Onder die veiligheidskenmerke wat standaard toerusting is, is ses lugsakke, parkeersensors voor en agter, ‘n trukamera,’n banddrukmonitor, outonome noodremhulp wat voetgangers bespeur, afdraandebeheer, kopligte met outomatiese hoëstraalwerking wat skemer kan bespeur en stabiliteitsbeheer.

Die topmodel van die Stelvio-reeks is die Q, vir Quadrofoglio, wat sy enjin en ratkas met die Giulia QV deel maar ook met vierwiel-aandrywing toegerus word. Die Stelvio Q versnel binne 3,8 sekondes van 0 tot 100 km/h en kan ‘n topsnelheid van 283 km/h behaal. Aan die binnekant spog die Stelvio Q met sportsitplekke wat met leer en Alcantara oogetrek is, ‘n klankstelsel met vyftien luidsprekers, en ‘n stuurwiel wat met leer en Alcantara oorgetrek is en insetsels van koolvesel bevat. 

Die pryse van die verskillende modelle, met ‘n waarborg en volle onderhoudsplan wat vir vyf jaar of 100 000 km geldig is, lyk só:

Giulia Veloce: R 989 900
Giulia QV: R 1 599 900

Giulia GTA: R 3 999 900

Giulia GTAm: R 4299 900
Stelvio Super: R 1 159 900
Stelvio Q: R 1 749 900

%d bloggers like this: