Breaking News

Volvo se 2019-reeks

Volvo se reeks bied groot verskeidenheid

Sedert sy terugkeer na die Suid-Afrikaanse mark in 1994 het die Sweedse vervaardiger Volvo weer sy plek begin volstaan, en veral die laaste paar jaar is ‘n aantal indrukwekkende nuwe modelreekse bekendgestel.

Volvo se SNV’s.

Die huidige reeks begin met die V40 en die V 40 Cross Country, wat in 2013 in Suid-Afrika bekendgestel is.  MotorPlus het in 2018 ‘n V 40 T4 en ‘n V 40 Cross Country D3 getoets en selfs al is dit Volvo se oudste reeks, het albei ons beïndruk. Die Cross Country D3 se gemiddelde brandstofverbruik van minder as 5 liter per 100 km was die beste wat ons tot nog toe met enige motor behaal het. Die V 40-reeks is beskikbaar as ‘n D2, D3 en D4 met turbodieselenjins en ‘n T3, T4 en T5 met turboaangejaagde petrolenjins. Die pryse van die verskillende modelle wissel van R 402 500 vir die T 2 Geartronic Kinetic tot R 565 300 vir die T5 Greatronic R-Design.  Die D2-enjin en R-Design-pakket is nie vir die Cross Country-reeks beskikbaar nie; hul pryse wissel van R 496 400 vir die T4 Geartronic Momentum tot R 603 800 vir die T5 AWD Inscription. Die D2 en T3-modelle word toegerus met viersilinderenjins van 1,5 liter’; die T3 lewer 112 kW teen 5 000 opm en wringkrag van 250 Nm teen tussen 1 700 en 4 000 opm; die D2 se syfers is 88 kW teen 3 750 opm en 280 Nm teen tussen 1 500 en 2 250 opm. Die res van die reeks word met turboaangejaagde petrol-of dieselenjins van twee liter toegerus. Die T4 lewer 140 kW teen 4 700 opm en 300 Nm teen tussen 1 300 en 4 000 opm en die T5 se syfers is 180 kW teen 5 500 opm en 350 Nm teen tussen 1 500 en 4 800 opm. Die syfers vir die D3 is 110 kW teen 3 750 opm en 320 Nm teen tussen 1 750 en 3 000 opm en vir die D4 is dit 140 kW teen 4 250 opm en 400 Nm teen tussen 1 750 en 2 500 opm.

Die eerste Volvo wat die Motor-van-die-Jaar-toekenning in Europa gewen het, was die XC 40, wat ook die derde plek in vanjaar se Suid-Afrikaanse kompetisie ingeneem het nadat dit in 2018 bekendgestel is.  Die reeks is onlangs uitgebrei met die toevoeging van die T3-modelle, wat toegerus word met ‘n turboaangejaagde driesilinderenjin van 1,5 liter en die keuse van ‘n hand- of outomatiese ratkas. Soos die res van die XC 40-reeks is die T3 beskikbaar as Momentum-, Inscription- of R- Design-modelle en hul pryse wissel van R 516 600 vir die Momentum-handrat tot R 588 100 vir die Geartronic R-Design. Daar is twee ander enjinkeuses beskikbaar, naamlik die D4-turbodiesel en die T5-turbopetrol. Die D4 se pryse wissel van R 634 800 vir die Momentum tot R 680 800 vir die R-Design, en dié van die T5 tussen R 641 500 en R 687 500.

Die Volvo XC 60.

Die XC 60 was nog al die jare een van Volvo se gewildste modelle en die nuwe reeks, wat in 2018 bekendgestel is, is geen uitsondering nie. Die hele XC 60-reeks word toegerus met turbopetrol of -dieselenjins met vier silinders en ‘n kapasiteit van twee liter. Die XC 60-reeks bestaan uit die D4 en D5-dieselmodelle en die T5 en T6-petrolmodelle. Die maksimum kraglewering en wringkrag is 140 kW teen 4250 opm en 400 Nm teen tusen 1 750 en 2 500 opm vir die D4 en 173 kW teen 4 000 opm en 480 Nm tussen 1 750 en 2 250 opm vir die D5. Die T5 se syfers is 187 kW teen 5 500 opm en 350 Nmtussen 1 500 en 4 800 opm en dié van die T6 is 235 kW teen 5 700 opm en 400 Nm tussen 2 250 en 5 400 opm.  Die pryse van die XC 60-reeks wissel van R 690 600 vir die D4 Momentum tot R 814 100 vir die T6 R-Design.

Die Volvo XC90.

Die vlagskip van die sportnutsvoertuig-reeks is die XC 90, wat die SA Mototorskrywers Gilde se 2016 Motor-van-die Jaar-toekenning gewen het nadat hy in 2015 in Suid-Afrika bekendgestel is.  Die XC 90 is pas opgeknap en beskik nou oor nuwe kenmerke soos verskillende sitplekuitlegte, wat dit moontlik maak om ses of sewe mense te vervoer, ‘n klankstelsel met verskillende modusse en ‘n raakskerm wat soos ‘n tablet werk. Benewens die tweeliter turbo petrol- en-dieselenjins, is die XC 90 ook beskikbaar met ‘n inprop-hibriede-enjin vir die T8-modelle.

Die T6-modelle word met ‘n druk- en turboaanjaer toegerus.  Die XC 90 is beskikbaar met Momentum, Inscription en R-Design-afwerking, terwyl die T8-reeks ook as ‘n vlagskipweergawe, bekend as die Excellence, beskibaar is. Die T8-enjin lewer 300 kW (235 vir die petrolenjin en 65 vir die elektriese een) en wringkrag van 640 Nm (400 vir die petrolenjin en 240 vir die elektriese een); dit beskik oor ‘n druk- en turboaanjaer en ‘n elektriese modus met ‘n reikafatand van 40 km.  Dit is ideaal vir diegene wat met die voertuig pendel. Die elektriese kragbron lewer 65 kW en 240 Nm en word deur die agterwiele aangedryf; dit sorg vir oombliklike versnelling en vierwielaandrywing wanneer nodig.  Die pryse van die XC 90-reeks wissel van R 1 023 700 vir die T5 Momentum tot R 1 668 500 vir die T8 Twin Engine Excellence.

Volvo bied ook ‘n alternatief vir die XC 90 in die vorm van die V 90 Cross Country, wat dieselfde jaar as die XC 90 bekendgestel is en een van net ‘n handjievol stasiewaens is wat nog in Suid-Afrika beskikbaar is. (Die enigste ander stasiewaens op die plaaslike mark is die Subaru Outback en die Audi RS 4 Avant quattro). Die V 90 Cross Country is meganies dieselfde as die XC 90 behalwe dat die Twin Engine-kragbron nie vir hom beskikbaar is nie.  Daar is ‘n D4 en ‘n D5, asook ‘n T5 en T6 beskikbaar, almal met permanente vierwielaandrywing, en al die modelle kan met die Momentum of Inscription pakkette bestel word. Die R Design-pakket is nie vir die V 90 Cross Country beskikbaar nie. Die pryse van die verskillende V 90 Cross Country-modelle wissel van R 847 600 vir die T5 Momentum tot R 1 010 600 vir die T6 Inscription.

Die Volvo S90

Nadat die S60 aan die Suid-Afrikaanse mark onttrek is, is daar op die oomblik net een sedan in Volvo se reeks, naamlik die S90 . Die S90-reeks is in die D4, D5, T5 en T6-modelle beskikbaar. Die D4 en T5 is voorwiel-aangedrewe terwyl die D5 en T6 permanente vierwielaandrywing het. Die S 90 is in 2016 in Suid-Afrika bekendgestel. Die S 90-reeks word toegerus met presies dieselfde turbo-aangejaagde viersilinderenjins van twee liter wat vir die XC 90 en V 90 Cross Country-beskikbaar is, behalwe vir die XC 90 se Twin Engine T8-kragbron.  Die pryse van die verskillende modelle wissel van R 750 400 vir die T5 Momentum tot R 964 900 vir die T6 AWD Inscription.

Een uitstaande kenmerk van al die nuwe Volvo-modelle behalwe die V 40 is die gebruikersvriendelike raakskerm; ‘n mens kry toegang tot die verskillende funksies op die kieslys deur bloot met ‘n vinger van links na regs of van regs na links te vee. Die meeste modelle word ook toegerus met vier kameras wat voor, agter en in elke buitespieël gemonteer word en die bestuurder wys wat reg rondom die voertuig gebeur. Daar is ook ‘n digitale instrumentepaneel wat volgens behoefte verstel kan word.  Die V 40 was die eerste Volvo wat ‘n veranderbare digitale instrumentepaneel met drie verskillende keuses gehad het; sy raakskerm is kleiner as dié van die ander modelreekse en daar is verskeie knoppies op die middelkonsole waarmee die bestuurder toegang tot die verskillende funksies kan kry, maar dit is steeds gebruiersvriendelik.  Die verskillende Volvo-modelreekse is met verskeie opsionele pakkette beskikbaar wat maak dat die voornemende eienaar sy of haar voertuig se spesifikasies self kan bepaal. Die hele reeks word gerugsteun deur ‘n volle onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km.

Die volgende nuwe Volvo wat na verwagting in Suid-Afrika bekendgestel word, is die nuwe S60, wat vroeg in 2020 op die mark behoort te kom.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: