Breaking News

Voorskou Dakar 2019 (6 – 17 Januarie 2019)

Deur Neels Rabe.

 

Dit was seker onvermydelik dat die Dakar-organisasie ‘n slagoffer van sy eie sukses sou word. Die kostes verbonde aan hierdie reuse wedren het te groot geraak om in drie lande te laat plaasvind. In 2018 het die Dakar tydren se roete deur Argentinië, Peru en Bolivië geloop.

 

Om kostes te spaar gaan die 41ste Dakar in 2019 vir die eerste keer in slegs een land plaasvind, naamlik Peru. Die roete is verkort van 9000 km na “slegs” 5000 km. Veertien sneldele word vervang met 10, maar die terrein maak daarvoor op. As jy nie van sand hou nie, bly weg, want die 2019 Dakar gaan een lang sand-marteltog wees! Sewentig persent van die roete is sand. Dit herinner natuurlik aan die oorspronklike Dakar waar deelnemers hul pad deur die Saharawoestyn moes vind. Navigasie vaardighede gaan dus nog belangriker wees as in die afgelope paar jaar.

 

‘n Welkome toevoeging tot hierdie beroemde wedren is die half-maraton kategorie (motorfietse uitgesluit). Indien ‘n span tydens die eerste helfte van die wedren uitval, kan hulle na die rusdag weer by die wedren aansluit in die half-maraton kategorie. Dit word as ‘n aparte kompetisie hanteer. Half-maraton voertuie sal oranje nommerplate kry om hul te onderskei van die ander voertuie.

 

As jy nog altyd gedroom het om die Dakar by te woon – dit mag moontlik een van die dae nie meer so moeilik wees nie, aangesien die organiseerders ‘n terugkeer na Afrika oorweeg. Hoë-vlak samesprekinge is reeds gehou met verskeie lande insluitende Angola en Namibië. Begin dus solank vir vroulief voorberei dat ‘n vakansie in Namibië darem ‘n wonderlike wegbreek geleentheid kan wees…

 

Met die onttrekking van Peugeot is die X-Raid span met hul Minis een van die gunstelinge. Die name Carlos Sainz, Stephane Peterhansel en Cyril Despres kort geen bekendstelling nie. ‘n Man wat gaan probeer om vir die eerste keer sedert Jean-Louis Schlesser in 2000 as privaat inskrywing te wen, is die legendariese Sebastien Loeb. Alhoewel hy die laaste van sy 9 tydren titels 6 jaar gelede verower het en toe uitgetree het, het hy vanjaar ‘n mini-terugkeer gemaak. In slegs 3 verskynings op die wêreld-tydrentoneel slaag hy daarin om in Spanje te wen. Hierdie sal sy vierde Dakar wees. Gaan hy sy reuse reputasie gestand doen en die onwaarskynlike vermag in sy privaat Peugeot? Tyd sal leer, maar vanuit ‘n Suid-Afrikaanse oogpunt is ons hoop natuurlik op die man van Stellenbosch, Giniel De Villiers, in sy Suid-Afrikaans geboude Toyota Hilux. Gaan 2019 die jaar wees waartydens hy daardie ontwykende tweede oorwinning sal behaal? Ons hoop van harte so! In ‘n volgende uitgawe sal ons meer fokus op die vyf Suid-Afrikaanse deelnemers in die 2019 Dakar.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: