Breaking News

VW se Kombi opgeknap

Volkswagen Suid-Afrika (VWSA) het pas die jongste  weergawe van sy gewilde Kombi, wat as die T6.1 bekendstaan, in Suid-Afrika bekendgestel.

Dit is die tweede fase van die algehele opknapping van die T6-reeks. Die Caravelle het aan die begin van die jaar hier op die mark gekom en die Transporter-bakkie, paneelwa en Crew Bus volg later. Die uitstaande kenmerk van die nuwe Kombi is die groter sierrooster, wat nie meer in twee verdeel is soos voorheen nie.

 

Daar is drie modelle in die Kombi-reeks; die Trendline, wat in twee weergawes beskikbaar is en die Trendline Plus 4 Motion. Die Trendline is met twee weergawes van dieselfde tweeliter-turbo-diesel enjin beskikbaar. Die intreemodel word aangedryf deur die minder kragtige weergawe, wat 81 kW teen 3 200-4250 opm en wringkrag van 250 Nm teen 1 250-3 100 opm lewer. Hierdie enjin is net met ‘n vyfgang-handratkas beskikbaar. Onder die Trendline se standaard kenmerke is elektroniese stabiliteits-beheer, ABS-remme met noodremhulp, vastrapbeheer, wegtrekhulp, parkeersensors, ‘n trukamera, ‘n waarskuwing as die bestuurder se aandag nie op die pad is nie en dwarswindbystand. Aan die binnekant is daar ‘n klankstelsel met ‘n sesduim-raakskerm, ses luidsprekers , twee USB-kragpunte,  asook semi-outomatiese lugversorging. 

Die kragtiger weergawe van die Trendline se kraglewering is 110 kW teen 3 250-3 750 opm en sy wringkrag is 340 Nm teen 1 500-3 000 opm. Hierdie model het ‘n DSG-ratkas met sewe gange as standaard toerusting. Die enigste buitekenmerk wat hom van die minder kragtige model onderskei, is 17-duim allooiwiele met 235/55 R 17 bande, terwyl buitespieëls wat met die druk van ‘n knoppie of met behulp van die sleutel, ingevou kan word, opsioneel beskikbaar is.

Die topmodel van die Kombi-reeks is die Trendline Plus 4 Motion. Hierdie model beskik oor die kragtigste weergawe van die tweeliter-turbo-diesel enjin, wat met twee turboaanjaers toegerus word. Hierdie enjin lewer 146 kW teen 3 800-4 000 opm en wringkrag van 450 Nm teen 1 400 -2 400 opm en weer eens is die sewegang DSG -ratkas standaard toerusting. Soos sy naam aandui, spog hierdie model ook met vierwiel-aandrywing. Die bykomende standaard kenmerke vir die Trendline Plus is onder meer volle outomatiese klimaatbeheer, die invoubare buitespieëls wat opsioneel vir die 110 kW-model is en met behulp van die sleutel ingevou kan word, en ligdiode-kopligte met afsonderlike dagryligte.

 

Verskeie opsionele ekstras is vir die Kombi beskikbaar, onder meer tweekleur-verfwerk vir die hele reeks, spoedbeheer vir die 81 kW-model, baandwaal-waarskuwing en agterste dwarsverkeer-monitor vir die 110 kW- en Trendline Plus-modelle, asook ‘n sleephulp-stelsel wat in samewerking met die trukamera werk vir laasgenoemde twee modelle. Dit stel die bestuurder in staat om ‘n sleepwa of woonwa te parkeer terwyl daar agteruit gery word. 

Die pryse van die verskillende Kombi-modelle, wat ‘n waarborg van drie jaar of 120 000 km en ‘n onderhoudsplan van vyf jaar of 60 000 km insluit, lyk só:

 

Kombi 2,0 TDI Trendline 81 kW SWB: R 725 000
Kombi 2,0 TDI Trendline 110 kW DSG SWB: R 755 300

Kombi 2,0 TDI Trendline Plus 146 kW 4 Motion DSG SWB: R 907 000

%d bloggers like this: