Breaking News

VW se Polo ingrypend verander vir 2022

Volkswagen Suid-Afrika het pas die jongste weergawe van sy uiters suksesvolle Polo bekendgestel.

Die nuwe Polo sal, soos sy voorganger, by VWSA se fabriek in Kariega in die Oos-Kaap vervaardig word, en is die eerste van verskeie nuwe modelle wat dié maatskappy in 2022 in Suid-Afrika sal bekendstel. Daar sal vier spesifikasievlakke wees; die vorige Trendline en Comfortline sal nou as die Polo en die Polo Life bekendstaan terwyl die R-Line wat voorheen net ‘n opsionele stileringspakket was, voortaan ‘n model in eie reg sal wees. Die Polo GTI is steeds die vlagskip van die reeks.

Die Polo word toegerus met lidgiode-kopligte terwyl die agterligsamestelling wat ook ligdiode-eenhede bevat, herontwerp is. Die Polo word toegerus met 14-duim staalwiele met wieldoppe, asook deurhandvatsels, ‘n digitale stuurkajuit  en elektries verstelbare en verhitbare buitespieëls in dieselfde kleur as die bakwerk. Aan die binnekant is daar ‘n veelfunksiestuurwiel, ‘n Composition Colour-klankstelsel met Bluetooth en elektriese vensters. Voornemende kopers kan ook 15 duim Essex-allooiwiele en ‘n rokerspakket met ‘n asbak en sigaretaansteker teen ekstra koste bestel.

Dieselfde allooiwiele wat opsioneel vir die intreevlak-Polo beskikbaar is, is standaard toerusting vir die Life. Onder die bykomende kenmerke waarmee die Life toegerus word, is is ‘n voorste armleuning tussen die sitplekke met ‘n bykomende USB tipe C-kragkabel, leerafwerking vir die stuurwiel en rathefboomknop, en hoëgehalte Slash-materiaal vir die sitplekke. Onder die Life se ander standaard kenmerke is parkeersensors, invoubare buitespieëls en lendesteun vir die voorsitplekke. Daar is twee Life-modelle beskikbaar, een met ‘n handratkas en een met ‘n kragtiger enjin en ‘n DSG-ratkas. Die DSG-model spog ook met ratspane agter die stuurwiel.  Die R-Line is nou ‘n afsonderlike model wat onder meer toegerus word met ‘n Composition Media-klankstelsel, ‘n koordlose selfoonlaaier , 16-duim Valencia-allooiwiele en dubbelsone-klimaatbeheer.

Die vlagskip van die reeks is weer die GTI, wat heelwat beter as voorheen toegerus is. Ligdiode-matrikskopligte is standaardtoerusting asook  Dynamic Chassis Control, outonome noodremhulp, koplige wat in die rigting van die stuurwiel draai en 18-duim Milton Keynes-allooiwiele. Verskeie opsionele ekstras is vir die GTI beskikbaar, onder meer ‘n Discover Media-klankstelsel met onder meer satellietnavigasie, koordlose koppeling van selfoontoepassings en die veelkleurige Digital Cockpit Pro, ‘n Comfort Park Pack wat uit ‘n trukamera, parkeerhulp en ‘sleutellose toegang bestaan,’n veiligheidspakket met onder meer aanpasbare spoedbeheer, voorbotswaarskuwing, baanhouhulp en baandwaalwaarskuwing  en leerbekleeedsel.

Daar is ‘n keuse van drie enjins, onder meer twee weergawes van die bekende eenliter-TSI-enjin met drie silinders. Die Polo en die Polo Life-handrat word aangedryf deur die minder kragtige weergawe van hierdie enjin wat 70 kW teen tussen 5 000 en  5 500 opm en wringkrag van 175 Nm teen tussen 2 000 en 3 500 opm lewer. Die Life DSG en R-line se weergawe van dieselfde enjin lewer 85 kW teen 5 000 opm  en 200 Nm teen tussen 2 000 en 3 500 opm. Die GTI se turboaangejaagde tweeliterenjin lewer 147 kW teen tussen 4 400 en 6 000 en wringkrag van 320 Nm teen tussen 1 500 en 4 350 opm. Hierdie enjin is net met ‘n DSG-ratkas beskikbaar.

Die Polo is opsioneel beskikbaar met die IQ Drive-stelsel wat die motor in staat stel om ‘n snelheid wat deur die bestuurder gekies word, outomaties te handhaaf.  Die radarsensor bespeur wanneer daar ‘n stadige motor voor die bestuurder is en rem die motor om ‘n veilige volgafstand te verseker. Wanneer die stelsel aktief is, rem, versnel en stuur die motor outomaties binne die stelsel se beperkinge. Hierdie stelsel maak die motor minder vermoeiend om te bestuur, veral op die lang pad.  Dit, tesame met kenmerke soos voorbots-waarskuwing en ‘n stelsel wat voetgangers bespeur, maak die Polo ‘n klasleier wat veiligheid betref.

Die 70 kW- en GTI-weergawes is reeds by VW-handelaars landwyd beskikbaar terwyl die 85 kW-weergawes in Maart sal volg. Die pryse van die modelle wat reeds beskikbaar is, lyk só:

Polo 1,0 TSI 70 kW: R 311 800

Polo 1,0 TSI Life 70 kW: R 350 000

Polo 2,0 TSI GTI DSG: R 489 400

Die reeks word gerugstreun deur ‘n waarborg van drie jaar of 120 000 km en ‘n diensplan van drie jaar of 45 000 km. Voornemende kopers kan diens-of onderhoudsplanne van tot 10 jaar of 300 000 km teen ekstra koste bestel. Die pryse van die 85 kW-modelle sal aangekondig word wanneer hulle bekendgestel word.

%d bloggers like this: