Breaking News

VW Taigo

Die jongste toevoeging tot Volkswagen se sportnutvoertuig-reeks is nou in Suid-Afrika beskikbaar.

Die Taigo pas tussen  die T-Cross en die T-Roc in Volkswagen se reeks in en is die sesde sportnutsvoertuig in Volkswagen se Suid-Afrikaanse reeks. Die ander is die T-Cross, die T-Roc, die Tiguan, die Tiguan Allpsace en die vlagskip van die reeks, die Touareg.

Die Taigo is die eerste sportnuts-koepee in sy segment maar het steeds vier deure en word op dieselfde platform as die Polo gebou. Die buitestilering word gekenmerk deur ‘n skuins C-pilaaar en uitgeboude modderskerms, maar die Taigo se bagasieruimte is dieselfde as dié van die T-Cross. Die Taigo is langer en platter as die T-Cross en die lang asafstand van 2 566 mm gee alle insittendes ‘n gemaklike en effens hoë sitposisie. Ligdiode-kopligte is standaard toerusting vir alle modelle en saam met die dagryligte sorg dit vir ‘n unieke vooraansig. Aan die agterkant is daar ‘n breë ligstrook wat die tweee agterligsameestellings verbind, met die Volkswagen-embleem in die middel daarvan. Daar is ook ‘n dakdrukvlerk aan die bokant van die agterklap.

Drie modelle sal beskikbaar wees, naamlik die Life, die Style en die R-Line. Laasgenoemde is nie meer net ‘n stileringspakket soos in vorige Volkswagen-modelreekse nie, maar ‘n model in eie reg. Al drie word aangedryf deur dieselfde turboaangejaagde eenliterenjin met drie silinders wat 85 kW teen tussen 5 000 en 5 500 opm en wringkrag van 200 Nm teen tussen 2 000 en 3 500 opm. Net een ratkas is beskibaar , naamlik ‘n DSG-ratkas met sewe gange.

Die Life is die intreemodel van die reeks en word toegerus met onder meer die volgende kenmerke: ‘n digitale stuurkajuit met ‘n vertoonpaneel van agt duim wat volgens die bestuurder se behoeftes aangepas kan word, ‘n Composition Colour-klankstelsel met ‘n 6,5 duim vertoonpaneel, vier tipe C- USB-kragpunte en vier luidsprekers, hoogteverstelbare voorste sitplekke, handbeheerde lugversorging, ‘n leerstuurwiel met ratspane , Belmopan 16-duim allooiwielee en elektries verstelbare en invoubare buitespieëls in dieselfde kleur as die bakwerk. Die Style is die middelste model en voeg onder meer die volgende kenmerke by: Aberdeeen 17-duim allooiwiele, ‘n digitale stuurkajuit met ‘n 10,25 duim vertoonpaneel, ‘n Composition Media-klankstelsel met ‘n agtduim-vertoonpaneel en ses luidsprekers, voorste sportsitplekke, outomatiese dubbelsone-klimaatbeheer, atmosfeeerbeligting binne met ligdiode-ligte en silwer dakspore. Die vlagskip van die reeks is die R-Line, wat met ‘n R-Line-stileringspakket toegerus word, asook swart dakspore soos dié van die Life, Valencia 17-duim allooiwiele, Art Velour-bekleedsel, pedale wat in vlekvrye staal afgewerk word en  verdonkerde glas vir die agterste kantvensters en die agterruit.

Al die modelle word toegerus met veiligheidskenmerke soos voorste-, kant- en gordynlugsakke, ‘n sensor wat moegheid by die bestuurder bespeur, ‘n banddrukmonitor, parkeersensors voor en agter, wegtrekhulp, sleepswaaibeheer  en stabiliteitsbeheer. Die R-Line word ook met ‘n elektroniese ewenaarslot toegerus terwyl IQ LIGHT ligdiode-matrikskopligte standaard toerusting vir die Style en die R-Line is. 

Die IQ Drive-stelsel bestaan uit verskillende bestuurshulpmiddels wat die motor in staat stel om gedeeltelik outonoom te bestuur. Dit is opsioneeel vir die Style en die R-Line beskikbaar en bestaan onder meer uit baanhouhulp, voorbotswaarskuwing, outonome noodremhulp en aanpasbare spoedbeheer. Daar is ook ‘n geriefspakket met ‘n trukamera, sleutellose toegang en parkeerhulp teen ekstra koste beskikbaar. Nog ‘n kenmerk wat teen ekstra koste beskikbaar is, is ‘n Discover Media-klankstelsel met sateellietnavigasie en ‘n koordlose selfoonlaaier.  Wanneer die opsionele panoramiese sondak wat oopgeskuif en gekantel kan word, gekies word, word die motor nie met dakspore toegerus nie. 

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van drie jaar of 120 000 km en ‘n diensplan van drie jaar of 45 000 km insluit, lyk só:

Taigo Life 1,0 TSI DSG: R 429 900

Taigo Style 1,0 TSI DSG: R 464 100

Taigo R-Line 1,0 TSI DSG: R 486 000

Voornemende kopers het ook die keuse om die motor se diensplan of instandhoudingsplan teen eksta koste tot en met tien jaar of 300 000 km  te verleng.

%d bloggers like this: